Bladsye

Tuesday, February 21, 2012

Baie hartlik welkom hier by ons heel eerste Storiehuis-blok-myself blaai. Dit sal gaaf wees as julle kommentaar wil laat en saam blok. Hier sal daar allerlei wees oor dinge wat ons graag vorentoe in die Storiehuis wil aanvang; en binnekort 'n kort relaas oor die afgelope heerlike "vers&musiek-storie" wat ons genoem het die Franse Storieaand. Nouja, so Frans was dit ook nie, behalwe vir hier en daar 'n Fransie geurtjie wat deur die sop gedwarrel het en die 'amoush bouche' wat met Dalene se snelle hulpverlening heerlik én betyds klaar was. Boonop was Emile se Chansons wondermooi én 'n gas het aan die einde saamgesing; in Frans. Meer volgende keer oor die program en ambience van 'n baie lekker aand.
Tot volgende keer -
Storiegroete
engemi

Seer geliefde Storievriende ~ ietwat uitgestelde terugvoering oor ons 'Franse' Storieaand

Julle lag nou lekker, maar is dit nie wat 2012 ons bring nie? Eerstens vreeslik baie verandering, nuutwording; en dan die kwessie van tyd. Alles gebeur teen versnelde spoed, en ons moet hol om by te bly. Wel, ek was so ‘n week gelede reeds een dag agter, en toe gebeur die Franse Aand verposing en pleks van inhaal, raak ek toe hierdie hele week nog verder agter; dis nou al vier dae en daarom … voila:

Die van julle wat die aand bygewoon het sal dit seker nie ligtelik kan vergeet nie.En die wat nie hier was nie – nouja, wat kan ek sê behalwe dat daar nie juis sitplek oor was behalwe op die trap nie hehe. Maar daar was tog hier en daar iemand wie se teenwoordigheid ek gemis het en ek hoop dit sal vorentoe moontlik wees dat jy saam kan geniet aan die fyn oorvloed van so ‘n aand

Emile Minnie het homself oortref en almal oorrompel met sy besondere joie de vivre. Die verskeidenheid van sy musikale oeuvre het verstom en verhelder. Hy weet hoe om sy gehoor te lees en het ons in die palm van sy hand gehou, ons soms met ingehoue asems laat val, dan weer toegevou. Ons was almal oortuig van die groot suksesse wat sy deel sal wees in die toekoms.

Heelwat gaste het arriveer met boeke onder die arm of papier in die hand, maar slegs ‘n kleinerige groepie het hande opgesteek toe ek vra wie wil meedoen. Onrus se bekende en persoonlike toneelman, Pieter Schoombee het ons betower met ‘n ‘Oom Louens’ juweeltjie deur nimlike Herman Charles Bosman. Toe was dit die beurt van wonderlike Wilna Snyman; sy het ons vertel waar haar liefde vir die teater begin het en toe gewys hoe die jarelange verbintenis daarmee haar geslyp het tot sekerlik een van die voorste woord-kunstenaars in Afrikaans, om net by die aand se vereistes te vertoef. Met ‘n  gedeelte uit Raka het sy die sterwens ure van Koki, in Van Wyk Louw se woorde aan ons voorgestel. Hart roerend.

(Vergewe asb al die byvoeglike naamwoorde; daar kom nog meer want dit kan nie anders nie)

Na haar het ‘n nuwe ster aan die digters firmament, Stella Stofberg  gevolg met voorlesings van haar eie verse. Stella kom self uit die teaterwêreld waarin sy opgelei is, ook opgetree en klas gegee het. Daar wag groot dinge vir haar en ons sien uit na die verskyning van ‘n debuutbundel waaraan sy werk.
Trisa Hugo het verse voorgelees van ‘n nuweling wie se e-bundel binnekort verskyn, en ons gevra om te help kies aan die bundel se naam. Dan het Hennie le Roux een van sy mees geliefde gedigte saamgebring en gelees: Vroegherfs deur Van Wyk Louw. Na hom het Anna Spaarwater verras met ‘n gedig deur Dianne Ferris oor Afrikaans. Daar was ongelukkig nie Eluard se Franse vertalings deur Uys Krige nie, maar Anna het ons herinner aan hoe soet ons eie taal klink met die Ferris gedig. Die laaste voorleser was Francis Galloway. Haar durende liefde vir Breyten se werk was ‘n heerlike en toepaslike jubeling oor die liefde, uit Die Ysterkoei moet Sweet. Nog ‘n laaste bydrae was ons plaaslike muzo Ben Pheiffer, wat Emile se klankbord gedeel het en twee pragtige romantiese chansons gesing het. Maar die grootste verrassing was toe Emile sy klarinet tevoorskyn bring en evokatief saam improviseer.

Wat ‘n genoeglike afsluitting vir ‘n onherhaalbaar fijne aand. Mag almal wat nie hier was nie, nooit weer die geleentheid laat verbygaan nie. Daar is ‘n hele aantal genoeglikhede wat voorlê; natuurlik sal daar geen herhaling kan wees nie, want sulke geleenthede is altyd eenmalig, maar aan die hoë standaard sal nie gepeuter word nie.

Laastens wil ek een en almal wat hier was bedank vir hulle menslikheid en mededeelsaamheid: ook elkeen wat meegedóén het om op ‘n eie wyse die aand nog ‘n suksesstorie te maak. Ons beplan ‘n effense verandering wat vorentoe ‘n meer gestruktureerde opset sal bied, maar sonder om spontaniteit of vreugde in te boet, meer hieroor in die volgende blok-myself. Teken met graagte in op ons Storiehuis-blog sodat alle nuus en interessante idees of los gedagtes gereeld by jou uitkom

Storiegroete,
engemi